Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARLNUUS SONDAG 9 MAART 2008

U luister na ZS6SRL die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die web web www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die koppelings soos aangedui. Vir oudio via Echolink koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie, en vorige bulletins, kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser vanoggend is Louw, ZS6LME, vanuit Pretoria met herleidings op 28,325, 14,235, 10,130, 7,066 en 3,695 MHz ESB asook, 51,400, 438,825 en 1 297 MHz FM in die Pretoriagebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik).

In vandag se SARLNuus:

NUWE E-POSLYS VIR SATELLIETENTOESIASTE

TINUS LANGE 7066 TEGNIESE UITMUNTENDHEIDSTOEKENNINGS

RADIO ZS IN DIE POS

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

NUWE E-POSLYS VIR SATELLIETENTOESIASTE

Na die sukses van die ZSVHF e-posstelsel, is ’n soortgelyke stelsel vir Suider-Afrikaanse satellietentoesiaste geskep.

ZS-SAT is ’n e-poslys vir Suider-Afrikaanse Amateurradiooperateurs om inligting te deel, raad te vra en om werkingskedules te reël vir beide LAW (LEO) en HAW (HEO) satelliete wat amateurradiovragte dra. Enigiets wat met amateursatelliete te doen het, is welkom op hierdie e-poslys.

Om aan te sluit, gaan na http://mailman.qth.net/mailman/listinfo/zs-sat en voltooi die nodige inligting. Sou jy probleme ondervind met die registrasie, stuur ’n e-pos aan mailgroups@zs2ez.co.za en die administrateur sal die registrasie doen. Daar is geen rekeningtipe-aansluitings soos Yahoo en Google nie en geen gemorspos word toegelaat nie – slegs geregistreerde gebruikers word toegelaat om items te pos. Intekenaars se adresse word vir geen ander doel gebruik nie.

TINUS LANGE 7066 TEGNIESE UITMUNTENDHEIDSTOEKENNINGS

Nominasies word ingewag vir die Tinus Lange 7066 Tegniese Uitmuntendheidstoekenning en die Tinus Lange 7066 Junior Tegniese Uitmuntendheidstoekenning Hierdie toekennings word jaarlikse gedoen aan persone wat ‘n tegniese projek indien in een van die volgende kategorieë:

a. Ontwerp en/of konstruksie van projekte soos ’n voorversterker, SGV-brug, outomatiese ID-er, praktiese antennaidees, maste, draagbare toerusting, kragbronne, ens.

OF

b. Enige programmatuur vir gebruik in amateurradio.

Die inskrywing moet die volgende insluit: - die ware item (as grootte en massa dit toelaat) of fotos (veral in die geval van antennas/maste, ens) en ’n volledige artikel met illustrasies/fotos gereed vir publikasie in Radio ZS.

Die ware item en ondersteunende dokumente, d.w.s. die artikel vir Radio ZS en enige ander dokumente, moet teen 31 Maart by die NARS afgelewer word. Al die inskrywings (waar moontlik, anders fotos) sal by die AJV uitgestal word en die toekennings sal tydens die toekenningsdinee oorhandig word. Die twee toekennings wat gemaak word, is die Junior Tegniese Uitmuntendheidstoekenning (onder 25 jaar), ’n geraamde sertifikaat en ’n kontanttoekenning van R350,00 en die Tegniese Uitmuntendheidstoekenning, n geraamde sertifikaat en ’n kontanttoekenning van R350,00.

SARL SE NASIONALE KONVENSIE EN AJV 'n MOET OM BY TE WOON

Het jy al bespreek vir die 2008 SARL Nasionale Konvensie? Gedurende die naweek van 11 tot 13 April lei alle paaie na Bloemfontein vir die SARL se Nasionale Konvensie en AJV. Die AJV-dokumente is nou beskikbaar op die web asook die volledige Konvensieprogram en registrasiedokumente. Om die AJV-dokumente af te laai gaan na www.sarl.org.za, en klik op 'members only' in die boonste regterhandse hoek van die tuisblad. Dit sal die lede alleenbladsy open. Klik op 'more on the AGM'-nuusitem en laai die PDF-dokument af. Die volmagvorm kan afsonderlik afgelaai word.

Vir lede wat vir die gedrukte weergawe gevra het, sal dit eersdaags in hulle posbusse wees. Om te bespreek vir die Nasionale Konvensie, volg die nuusitem op die tuisbladsy. Dit het 'n skakel na 'n lys van bed & ontbyt en ander verblyfopsies. Die sluitingsdatum vir besprekings is Sondag 6 April 2008.

RADIO ZS IN DIE POS

Die Januarie/Februarie 2008 uitgawe van Radio ZS is Vrydagmiddag gepos en die elektroniese uitgawe is na de SARL web versend om opgelaai te word, dit sal vroeg in die week beskikbaar wees.

In sy artikel ‘Ham Pride’ bespreek Dave Ingram, K4TWJ, sy ‘QRP Pen’, ’n klein radio in die huls van ’n pen en dit werk! George Honiball, ZS6NE, vertel ons hoe om die ISO-metrieke eenhede korrek te gebruik. Is jou klub se aktiwiteite op die afdraande? Lees wat sê Wayne Green, W2NSD, in “How to build a great Ham Club.” Eddie Leighton, ZS6BNE, vertel van “Automatic Link Establishment” ook bekend as ALE, ’n nuwe digitale modus, en Dan Richardson, K6MHE, bespreek “VHF Mobile Antenna Performance”, hierdie item sal jou aan die dink kry oor die plasing van die antennas op jou motor. Jan Botha, ZS4JAN, het ’n klompie punte om te deel oor HF-kompetisies, daar is die gereelde Museum- en Padvinderitems en die tweede opstel in die reeks “Future of Space” word gepubliseer.

SA AMSAT SE RUIMTEKOMMUNIKASIEPROGRAM BESKIKBAAR

SA AMSAT het sy 2008 se Ruimtekommunikasieprogram gepubliseer op die web. Lees dit by www.amsatsa.org.za. Die simposium word op 19 April 2008 by die Durbankampus van die Universiteit van KwaZulu-Natal gehou. Dis nog 'n geleentheid om nie mis te loop nie.

KOMPETISIENUUS

SARL BHF/UHF-KOMPETISIE

Die eerste skof van die SARL BHF/UHF-kompetisie begin om 10:00 UTC of12:00 SAT op Saterdag 15 Maart en eindig om 10:00 UTC of 12:00 SAT op Sondag 16 Maart 2008. Deelname aan die kompetisie kan as ’n vaste stasie, ’n draagbare of veldstasie of ’n beperkte kategorie stasie wees. Aktiwiteit geskied op 6, 4 en 2 meter, 70 en 23 cm en hoër met FM-, ESB-, GG- en digitale modusse. Roepseine, seinrapporte en ’n sessyfer ruitverwysing word uitgeruil.

Kry jouself of jou klubstasie gereed vir hierdie kompetisie en probeer ’n nuwe modus op die BHF/UHF-frekwensies. Die reëls is beskikbaar in die 2008 SARL-Kompetsiehanboek op www.sarl.org.za.

SARL 80 METER QSO-GESELLIGHEID

Die eerste skof van die SARL 80 Meter QSO-geselligheid vind plaas op Donderdagaand 3 April 2008 vanaf 19:00 tot 22:00 SAT.

KLUBNUUS

Op 12 April begin die Kemptonpark Amateur Radio Tegniese Vereniging begin met 'n Klas B RAE kursus ter voorbereiding vir die Mei RAE. Indien daar genoeg belangstelling is, sal ons ook die Klas A RAE aanbied. Belangstellendes kan Viv Dold, ZS6VD, op 083 327 9181 of Clive Reeks, ZS6BT, op 082 466 2064 kontak.

Die Overberg Amateurradioklub gaan hulle AJV by die HMO op Hermanus hou op 15 Maart 2008.

Die Oakdale ARK, ZS1OAK, het hulle AJV in Februarie gehoue. Die volgende lede is verkies om op die komitee te dien:

Fred Scheepers, ZS1FCS – voorsitter; Paul Allen, ZR1PJA – ondervoorsitter, Dirk Du Plessis, ZS1DDP – sekretaris en tesourier en lede Gerald Meneses, ZS1GRM, Henk van der Pol, ZS1VDP, Eddie Dry, ZS1EJD, Dave Perry, ZS1SG, Sean White, ZS1BSD, Herby Evans, ZR1ABV, Dick Busby, ZS1AQD en Bernie Crockford, ZS1BW.

Tydens die onlangse AJV van die Lichtenburg Amateurradioklub (LARK) is die volgende komitee verkies:

Evan Davies, ZS6EVD – voorsitter, Kobus Roos, ZS6RPJ – tesourier, Hannetjie Marnewick, ZR6BMM – sekretaresse en Jerry Van Zijl, ZS6BTL – organiseerder. Die inkomende komitee wil graag vir Eddie Leighton, ZS6BNE, uittredende voorsitter, en sy komitee bedank vir die harde werk om die klub op te bou tot waar dit vandag is.

Sterkte word toegewens aan die nuutverkose komitees.

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak die komende week baie laag gaan wees. Die geomagnetiese veld sal onrustige tot aktiewe vlakke bereik. Die voorspelde effektiewe sonvlekstelling sal gedurende die komende week minder as 5 wees. Die verwagte DX toestande is goed vir die Noord-Oos paaie maar vrotterig vir die hoofsaaklik Noordelike rigtings.

15 m en 20 m is die beste keuse vir DX met moontlike 15 en 20 m-openinge vanaf 14:00 SAT na Indië. Daar is 'n moontlikheid van kort, flou 20 m-openinge na Australië vanaf ongeveer 08:00. Vanaf ongeveer 16:00 is daar moontlike kort, flou 15 en 20 m-openinge na Europa. Kontakte met die VSA gaan baie uitdagend wees. 10 MHz lyk na sonsonder bruikbaar vir die Morse-kode en digitale entoesiaste.

Plaaslike toestande gaan gedurende die dag op 40 m goed wees. 30 m behoort gedurende die middel van die dag goeie resultate oor die langer afstande te lewer. Saans is 80 m die beste keuse. Dit is nou as die donderstorms en staties vir jou 'n kans gaan gee. Onthou dat hierdie net 'n voorspelling is en dat HF jou altyd kan verras. Skakel jou stel aan, luister en roep ook CQ om seker te maak dat jy deel van die opwinding is.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

15 Maart – Overberg ARK AJV;
15 en 16 Maart - SARL BHF/UHF Kompetisie;
31 Maart - Sluitingsdatum vir stadium 1 van 2008 konstruksiekompetisie;
31 Maart - Sluitingsdatum vir nominasies vir Tinus Lange-toekennings;
3 April – SARL 80 meter QSO-geselligheid;
6 April – Sluitingsdatum vir verblyfbesprekings vir die SARL se AJV;
11 tot 13 April - SARL AJV in Bloemfontein;
12 April - Kemptonpark AmateurRadio Tegniese Vereniging begin met 'n Klas B RAE-kursus;
19 April – SA AMSAT Ruimtekommunikasiekonferensie

SARL nuus nooi klubs en individue uit om nuusberigte wat vir radioamateurs en kortgolfluisteraars van belang is in te stuur. Indien moontlik, plaas nuusberigte in beide Afrikaans en Engels op www.sarl.org.za/newsinbox.asp nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u ook om na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoriagebied met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 590 kHz, te luister. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur Dennis, ZS4BS, saamgestel is.

'n Voorspoedige week word aan almal toegewens, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003